Fragment
FRAGMENTE uit GRIEKELAND VERRASSEND ANDERS! (Deel 3)
PÉLION VERRASSEND ANDERS! (2,324 Woorde)
FRAGMENT Nr. 1 (388 woorde)
By ʼn koffiekroeg op Athene se internasionale lughawe parkeer Suzette die trollie met ons bagasie langs my, haal die Griekse landkaart uit, vou dit oop en sê: “Kyk jý solank na die kaart terwyl ek vir ons gaan koffie koop.” ʼn Rukkie later kom sy terug en vra: “Het jy al besluit watter rigting ons gaan inslaan?” “Nee jong, ek het nog geen idee nie. Die dag is nog lank, kom ons drink maar ons koffie en wag tot daai toeristekantoor oopmaak,” antwoord ek.
ʼn Mooi meisie (die Griekse meisies is almal mooi, party net mooier as die ander) sluit die kiosk oop, rol die blinding op en bring die toonbank in gereedheid. Ek vou die kaart tussen my en die meisie oop en vertel van ons vorige besoeke én van my ongeluk - dat ek nie ver wil ry nie. “Where do you recommend we should go, where would people from here, from Greece, go?” Vra ek.
Sonder om te twyfel antwoord sy: “Pélion! Everybody goes there, young and old. It is beautiful there.” Ek sien dat sy nie Pélion sommer maar net aan my voorhou nie, maar self oortuig is dat ons dit daar sal geniet.
“Have you been there yourself?” Vra ek.
“Yes, I go there often,” sê sy.
“How far is it?”
Sy antwoord: “Oh, less than two hours by car, with the main road, I guess.”
Dit klink nie te ver nie en sy oortuig my om die omgewing van Mont Pélion te gaan verken.
Ek beskou die kaart en bekyk die roete. Aan die voet van Berg Pélion lê die stad, Volos. Volgens ons kaart is daar aan die noordekant van Evia, tussen Evia en Volos, ʼn veerverbinding via die Golf van Pagasitikos. Aan die westekant is daar net ʼn smal seestraat tussen die eiland en vasteland. Dáár is die eiland met ʼn brug aan die vasteland verbind. Die hoofpad na Volos loop ook sommer daar naby die brug verby. Dit kan mos net ʼn avontuur wees om oor Evia te ry, dink ek, dan kan ons sommer ook van die eiland iets te siene kry! Só redeneer ek en bespreek my insigte van die kaart met die meisie agter die toonbank. Sy beaam alles ... ai, mooi meisies met oë soos donker poele water vol geheimenisse kan tog só mooi beduie!
FRAGMENT Nr. 2 (336 woorde)
Die Olimpiese Spele is agter die rug en viertalige rigtingaanwysers - vroeër jare het sommige mense dit “predikante” genoem - wat langs die vernaamste roetes aangebring is, lei ons deur buitewyke van Athene en noordwaarts, verby die stad, tot waar die pad na Evia uit die snelweg wegdraai. Aan Evia se kant is die pad smal - iets breër as ʼn enkelbaan. En, dis uitgetrap. Ons het nog nie één padteken of “predikant” gesien wat aandui waarheen afdraaipaadjies lei nie. Ons kaart dui ook nie ál die afdraaipaadjies aan nie.
Ek besluit dat ons ver genoeg in ʼn oostelike rigting - die rigting na die ander kant van die eiland - gery het. Ons moes lankal noordwaarts weggedraai het, op ʼn pad wat na die veer lei, Volos toe! By die volgende paadjie wat na ons mening noordwaarts lei, draai ek af. Ons land op ʼn uitgetrapte grondpad, ʼn pad vol gate en slote wat teen steil hellings deur denneplantasies, op en af, kronkel - ʼn bosboupad! In Suid-Afrika het ek nooit ʼn probleem gehad om rigting te bepaal nie. Dáár beweeg die son vóór ʼn mens, teen die noordelike horison, van Oos na Wes verby, maar hier in die noordelike halfrond is hy agterbaks. Hy kom steeds in die ooste op en gaan in die weste onder, maar beweeg met die suidelike horison langs. As jy noord kyk beweeg hy ágter jou rug om - dis verwarrend! Die pad kronkel ook só dat wanneer ons die son skrams tussen boomtoppe deur te siene kry, is hy aan die verkeerde kant. Na byna twee uur se sleur met die kronkelpaadjie deur plantasies heen, is hy ook nie meer voor, agter, links óf regs van ons nie, maar bó ons! Vir al wat ons weet ry ons nou in sirkels. As ons maar net iewers op ʼn plek kan kom waar ons ʼn rukkie kan rus en iets kan kry om te drink, maar tot nou toe het ons geen teken van lewe gesien nie, net bome!
*****
FRAGMENT Nr. 3 (399)
Plotseling sien ons see met land aan die oorkant. Met die son reg bó ons, het ons steeds geen idee aan watter kant van die eiland ons uitgekom het nie - aan sy noorde- of aan die westekant? Ons herken albei die simbool van ʼn veerbootaansluiting en dis nie vir my meer só moeilik om die Griekse skrif te ontsyfer nie: Βόλος (Volos). Is dit Volos, die wit strepie daar in die verte?
Vlak by die strand is ʼn drieverdiepinggeboue met ʼn paar ander geboue in die agtergrond. Langs die geboue is ʼn struktuur van pale met ʼn rietdak – skynbaar ʼn taverne. Daarnaas is ʼn kleinerige tent wat as kiosk dien. In die enge skadu van ʼn enkele boom op die strand, is ʼn bakkie en nog twee voertuie geparkeer. Drie helderkleurige bootjies lê ver van mekaar, ver van alles af, hoog en droog op ʼn verlate strand. Langs ʼn enkele bankie (waar niemand dit in hierdie skreiende son sou waag nie) lê ʼn kajak. Op die verste punt van die strand is ʼn enkele rietskerm. Só verlate het ons in ons lewe nog ooit ʼn strand gesien nie!
Die son bak genadeloos. Ons het nou waarlik iets nodig om te drink, ons tonge kleef aan ons verhemelte vas!
Ek parkeer die kar daar in die oopte, en ons stap na die gebou om ondersoek in te stel. Die deure is toe, maar binne sit ʼn man by ʼn tafeltjie en koerantlees. Wanneer ek die handvatsel draai kyk hy op. Ons stap binne, maar dit neem byna té lank voor hy sy koerant neersit en nader staan om te hoor wat ons nodig het. Hy begin in Grieks. Ons verstaan daar geen woord van nie.
Ek vra waar mens die “ferry” na Volos kan haal: “The ferry to Volos ... where?” Hy begryp kennelik waarvan ek praat en beduie skuins by ʼn venster uit na ʼn betonblad wat, daar waar die pad eindig, gelyk met die pad se oppervlak, die see in loop. ʼn Kaai?
Ek vra: “What time?” Hy verstaan nie. Ek wys na my horlosie en herhaal: “What time?”
Hy rammel ʼn paar woorde in Grieks af. Ons verstaan steeds nie, maar ons is so dors soos die Kalahari op ʼn warm somersdag. Ek vra: “Coca-Cola?” Díe handelsmerk is darem oral, in elke afgeleë gebied in die wêreld, bekend.
Ons suig aan yskoue Coca-Cola en wag ...
*****
FRAGMENT Nr. 4 (443 woorde)
Minute word ʼn halfuur, ʼn uur gaan verby, dan hoor ons ʼn gerammel en sien ʼn gehawende twee-ton-bakkie met die stamperige stofpad afkom. Hy ry oor ʼn hardgetrapte strook sand en parkeer vlak voor die betonblad. ʼn Rukkie later hoor ons weer iets en sien ʼn ewe gehawende vier-ton Hyno-vragmotor, uit die laat vyftiger- of sestigerjare van die vorige eeu, met die pad afkom. Hy parkeer agter die bakkie. Dit word weer stil, tjoepstil.
Na ʼn wyle merk ons ʼn kleinerige veer wat iewers vandaan gekom het, besig om aan die voorpunt van die kaai vas te meer. Toe hy vertrek is dit net die vragmotor, die bakkie, die skeepsman, een bemanningslid, die mense wat in daardie twee voertuie was en ons met ons gehuurde karretjie aan boord. Meer kan daar nie op nie!
Die son bak.
Hier is geen kajuit of beskutting vir passasiers nie. Die houtbanke langs die sykante van die boot is hard, het geen rugleunings nie en is warm gebak. Dit brand ons sitvlakke. My rug pyn.
Die veer vaar met ʼn boog na regs - Noord! In die verte doem die profiel van ʼn majestueuse berg op - groter as die berge aan die westekant, oorkant van die seestraat van Evia. Is dit Pélion?
Hoe nader ons aan die duisend-sewe-honderd-meter hoë Berg Pélion kom, hoe indrukwekkender lyk hy. Soos Tafelberg verrys hy byna loodreg uit die see maar hy is ʼn paar honderd meter hoër as Tafelberg! Soos Tafelberg vorm hy ook ʼn skiereiland met die vasteland. Hierdie skiereiland het egter die vorm van ʼn skoen. Dit lyk byna na die “skoen” van Italië, maar is ʼn miniatuur, ʼn omgekeerde beeld, daarvan - sy punt wys in die teenoorgestelde rigting. Hy het ook nie ʼn hoë hak soos Italië se stewel nie, dit lyk meer na die skoen van ʼn nar. Hy het ʼn plat hak en ʼn omkrulpunt met ʼn klokkie vooraan. ʼn Eiland. Die punt (oftewel “toon”) vorm ʼn smal poort met die vasteland, ʼn veilige toegangspoort tot die Golf van Pagasitikos. Die stad Volos is ʼn wit strepie op die kuslyn van die kolpos, geborge aan die voet van die majestueuse Berg Pélion. Maar, ons veer vaar nie die kolpos binne nie! Hy neem ʼn ander roete ... Hy draai Wes - Waarheen?
Volgens die kaart moet hy die kolpos binne - Volos toe. Maar hy pyl op ʼn verlate plek af, op die kus van die vasteland, suid van die baai van Pagasitikos, waar nie ʼn dorp is nie! En volgens ons kaart, geen veerboothawe nie. Dis ʼn plek in die barre, ʼn braakveld waar twee karre geparkeer staan. Dis ver van Volos af.
*****
FRAGMENT Nr. 5 (240 woorde)
Na ʼn lang vermoeiende dag, die ryery met die bosboupaadjie langs deur gate en slote, sak ons albei op ʼn bed neer. Toe ek wakker word het die son agter die berg verdwyn. ʼn Ligte bries vloei langs die berg af en verdryf die soel aandlug. Die nagtelike skaduwee van Berg Pélion omvou die omgewing. Liggies weerkaats op stil, donker water.
Ons steek in ons spore vas. In die dampkring waar see en uitspansel mekaar ontmoet, waar vanmiddag geen horison was nie, skyn witlig teen middernagtelike blou. Die skynsel word helderder - helderder as die skynsel van sproeiligte by ʼn sportstadion teen ʼn wolkbedekte hemel! ʼn Skugterskaam maan wat skroom om sy verskyning te maak kom moedig uit die dampkring, swel lewenskragtig uit, word groter en breek los van iets wat hom wil vashou, word nóg groter en stort ʼn emmer witgoud op spieëlgladde water uit. Dit spoel tot hier by ons oor nat sand en skitterblinkklippies. Met waardigheid betree hy sy troon - die breedte van sý horison skitter in sy glorie! Tussen skitterglans van sterre wat verskiet, volg ons sy baan. Hoe kan ʼn mens dít na waarde skat waar mure van geboue en strukture, die “ewige” gloed van stadsligte teen ʼn newel van verstikkende rook- en gasdampe, ʼn sluier van rookmis, die naakte skoonheid van die nagtelike hemelruim besoedel en verskans? Hier, aan die ander kant van Pélion, vul die geur van ʼn sipresboom die swyende lug.
*****
FRAGMENT Nr. 6 (224 woorde)
Die son kom teen ons venster op en maak vroeg warm. Ons moet geld gaan trek en proviand gaan koop. Iemand het gesê Agios Ioannis het nie ʼn kruidenierswinkel óf geldoutomaat nie, daarvoor moet ons vyf kilometer terug, halfpad berg-op, Tsagarada toe. Gister moes ons daar verby gery het sonder om die dorp op te merk. Later het ons uitgevind dat die dorpsgebied, bekend as Tsgarada, eintlik uit vier kleiner eenhede bestaan – Agia Paraskevi, Agia Kiriaki, Agio Stefano en Agioi Taxiarhes. Die Vlaminge sou dit “gehuggies” noem.
Gistermiddag was hierdie pad in ʼn skaduwee gehul. Maar vanoggend skyn die son, glansend, op die lowergroen van bome, skilder hy patrone en figure van lig en donker op die pad. By ʼn T-aansluiting sien ek, aan die oorkant van die pad, helder water by die bek van ʼn fonteintjie uitvloei. Hoër-op kom water teen die berghang afgestroom, bruisend tussen rotse, glinsterend waar die son plek-plek daarop skyn. Waar dit vandaan kom woon seker geen mens nie. Daardie water moet drinkbaar wees, onbesoedeld, suiwerskoon, dink ek hardop. Ek trek die kar van die pad af, stap oor die straat en hou my hand bak om daarvan te proe - dis verfrissend-koel en smaak heerlik soet. Ek les my dors en gaan haal die waterbotteltjies wat ons vanoggend leeggemaak het, uit die kar, om weer vol te maak.
*****
FRAGMENT Nr. 7 (586 woorde)
Gisteraand was volmaan en vandag is springgety. Die verskil tussen hoog- en laagwater is hier só gering, dis byna nie waarneembaar nie. Maar iewers van die oorkant, van Turkye se kant, van die Sporades se kant af, het ʼn ligte bries die water na ons kant toe begin dryf. Waar dit ʼn halfuur gelede leweloos was kabbel klein golfies nou op die oppervlak en plof op die strand neer. Hulle is skaars tien sentimeter hoog maar kalwe die sand onder my voete uit. Nee, dis nie sand nie, dis klein ronde klippies.
In Suid-Afrika en België het Neurochirurge my gewaarsku om versigtig te wees want, sou ek val of ʼn kind net teen my sou vashardloop, loop ek gevaar om van my skouers af tot by my voete verlam te raak. Daarom trap ek versigtig oor die plek waar die golfies breek en klippies wegkalwe. ʼn Paar meter die bloue oseaan in staan ek halflyf in die water, draai op my rug en dryf. Die soutgehalte is hoog, ek hoef nie met my voete te beweeg om my vlot te hou nie. “Zalig” sou die Vlaminge sê, om só op deurskynende water met jou gebleikte lyf en gesig in die son te dryf en oor glansende golwe te wieg.
Hoe lank het ek só gedryf? Ek weet nie, maar toe ek besluit om nader aan die strand te beweeg merk ek dat die golwe hoër geword het, die gety het gedraai. Ek kan nie my arms gebruik om teen die kerende gety te swem nie en maak gebruik van die golwe om my uit te spoel. ʼn Sestig-sentimeter-hoë golf kom onder my in en gooi my soos ʼn sak mielies op die strand neer. Ek spartel om orent te kom voordat die volgende golf my kan verras. Gladde klippies glip onder my voete uit. Ek struikel, strompel om orent te bly en slaag daarin om droë sand onder my voete te kry, voordat die volgende brander breek. Toe ek rondkyk sien ek iemand besig om Suzette uit die water te help.
Sy vertel: “Toe ek klein klippies teen my wang voel aanspoel, het ek besef dat ek in die moeilikheid was. Net toe ek paniekerig begin voel, sluit ʼn paar sterk arms om my en lig my uit die water. “Wicus,” dink ek, want op daardie oomblik het ek vergeet ... Ek voel verlig en haal diep asem, maar hoor ʼn ánder se stem besorgd vra: “You okay?” Ek vee slierte hare uit my oë en kyk op in die oë van ʼn man met ʼn woeste weglêsnor - ʼn ou man, ʼn Griek! “Uh … Yes, I’m okay, uh, thank you ... uh, uh …” sê ek hygend, “thank you very much!”
Selfbewus, skaam dat ʼn ou man my uit sulke vlak water moes red, sluip ek daar weg en raak skielik onthuts: “Waar is mý man dan! Kan hý my nie help as ek in die moeilikheid is nie?” Toe val dit my by van sy besering. Ek besef dat ek hom laas ʼn paar meter diep die oopsee in op sy rug sien dryf het. ʼn Gevoel van skuld, benoudheid, verbystering en angs oorweldig my. Verskrik kyk in die rigting waar ek hom laas gesien het, maar dáár is nie meer ʼn mens in die water nie! Waar is hy?
Toe sien ek hom struikelend, strompelend, uit vlakwater orent kom en na my toe aangestap kom.
Verlig vee ek trane en soutwater uit my oë en wonder: “Het hy dan nie seergekry nie?”
DENDERMONDE
2022/05/05
×