Fragment
VERKORTE FRAGMENTE uit GRIEKELAND VERRASSEND ANDERS! (Deel 2)
TRAHILA VERRASSEND ANDERS!
FRAGMENT Nr. 01
Ons volg die pad al kronkellende, berg-op, tussen ʼn paar huise deur die stad uit, deur ʼn groen boomryke vallei, deur ʼn nou poort en al kronkelende berg-af. Weer bergop, deur ʼn klein dorpie, oor ʼn nek en ... eensklaps lê die Golf van Messinia skitterblink voor ons uitgestrek! Van hoog bo die oseaan kyk ons oor die uitgestrekte voetheuwels van die Taygetosgebergte - die kuslyn van die Messiniaanse Golf met tallose skiereilande, inhamme en baaitjies wat deur uitsteeksels van die bergreeks gevorm word. Ver op die horison vorm berg, see en lug ʼn eenheid, asemrowend mooi!
Ons hou stil om die vergesigte, die uitgestrektheid in albei rigtings, deeglik gade te slaan en word verras deur ʼn aangename koel, vars, berglug en die geur van kruieplante teen berghange langs die pad - ʼn aroma so subtiel soos goeie parfuum! Ruwe berge reik hemelwaarts.
Hoog teen ʼn berghang, hang ʼn dorpie soos ʼn arendsnes. Langs ʼn rotsrif wat diep die see in strek is ook ʼn dorpie. ʼn Entjie verder word nog ʼn dorpie deur die voet van die berg gekoester. Iets verder langs die kuslyn af is nóg een en, ja waarlik, daar ver op die gesigseinder is ook een! Iewers in hierdie omgewing sal ons tot rus kan kom!
Met ʼn klein paadjie wat na êrens of nêrens moes lei, ry ons verder in die hoop om tog iewers slaapplek te kry. Agter ʼn motorhek waar geroeste drade, wat eens ʼn heining was, verlep tussen droë stekelgrasse hang, staan ʼn geroeste bruin bordjie. Daar staan geskryf: “ONLY TRAHILA NO ROAD TO CAVES”. Dit lyk of die pad hier doodloop. Ek wil verder, maar Suzette wil nie. Sy wil omdraai en sê: “Jy sien mos die pad loop hier dood!”
Ek herinner haar daaraan dat dit ʼn uur of twee kan duur om weer met die kronkelpaadjie oor hoë berge terug te ry, Kalamáta toe. En, dat dit al donker sal wees wanneer ons dáár iewers, wie-weet-waar, slaapplek moet gaan soek. Dan skiet die woorde van ʼn liedjie uit my kinderdae my binne en ek begin sing:
Keep right on to the end of the road,
Keep right on to the end …
Só ontdek ons Trahila, maar wat van slaapplek?
*****
FRAGMENT Nr. 02
Voor ʼn paar huise aan die oorkant van die baaitjie sien ons ʼn ouerige vrou met trappies teen ʼn drie-meter hoë betonwal afklim tot onder in die water. Haar lyf en bewegings verraai haar ouderdom. Sy swem ʼn paar meter vryslag, slaan oor na borsslag en wissel dit af met rugslag. Sy swem verbasend goed vir haar ouderdom - ver die see in. Later sien ons haar, ʼn hele ent die see in, op haar rug dryf. Ons sien ook ander gryskoppe, mans en vrouens, met seer knieë en waggelende bene uit hulle huise kom. Hulle sukkel óók met die leertjie af, tot onder in die water. ʼn Rukkie later dryf ʼn hele paar gryskoppe op die water, soos boeie waaraan bootjies kan vasmeer! Die water dra hulle stemme ver ... tot hier. Ons hoor hulle gesels en wonder waar daar nóg ʼn plek op aarde is waar mense in die skemeraand van hulle lewe só gesellig saam die aandskemering kan deurbring?
*****
FRAGMENT Nr. 03
Die son hang laag oor die plek waar hy soos ʼn ou man, ná ʼn lang dag se harde werk sy rus gaan opsoek, die deken oor sy kop gaan trek en wegraak om te slaap totdat hy môre, in die vroeë oggendure weer die sleur van ʼn lang somerdag gaan aanpak. Dan verdwyn hy agter die gesigseinder, strooi goud teen ruwe rotse terwyl skaduwees langsaam teen rante en kranse van hoë berge opklim. Hier huiwer die son lank om onder te gaan. Eers verloor hy sy intensiteit, dan verkleur die lug tot liggeel, intense skakerings van oranje, goud, brons en rooi, wat verander in ligroos wat op die horison huiwer ... dan blougrys en grys. Grysblou en grys word donker, die water grysbruin, bruin-swart. ʼn Silhoeët van berge weerkaats op donkerswart, glimmende, water. Alles gebeur met verdrag - langsaam, tydsaam, ongehaas, stadiger as stadig, maar tog só gou! Dis betowerend, fassinerend mooi. ʼn Mens beleef dit met ál jou sintuie, elke oomblik daarvan! Onbewus wil jy daaraan vashou, dit vasgryp, voordat dit weer verander. Tog sien jy in afwagting uit na elke verandering, bly jy in verwondering staar en kyk hoe een kleur in die ander smelt. En dan ...?
*****
FRAGMENT Nr. 04
Op pad om die eetplek te soek ontmoet ons ʼn Walliese egpaar wat sê dat daar geen eetplek op Trahila is nie, dat ons gasvrou dalk bedoel het dat ons die aand by die “fees” iets te ete kan kry. Dis waarom húlle hier is - die fees! Want op Trahila word vanaand feesgevier. Dis die laaste van ʼn reeks somerfeeste in die streek. Hier word vark gebraai - ʼn heel vark aan ʼn spit oor kole! Maar hier word nie drank verkoop nie, elkeen moet sy eie drank voorsien sê John. “But, don’t worry,” sê hy, “I have enough beer in the boot of my car for the four of us!”
In haar boek, North of Ithaka, skryf Eleni Gage: “Roasting on a spit is a sign of great celebration that is not appropriate in mourning.” Sy brei uit oor die betekenis van bepaalde feesgeleenthede wat hierdie tyd van die jaar oral in Griekeland gehou word. Die varkbraaiery gister op straat in Kamalata, was seker ook deel van die somerfeeste, dink ons. Want dis nou feestyd in Griekeland!
Hier is nog niks te sien of te hoor wat daarop dui dat hier vanaand enige feestelikheid gaan plaasvind nie, selfs die geblêr van luidsprekers is afwesig. Maar die geur wat ons vanmiddag in Kalamáta se strate geruik het hang swaar in die lug. Dan hoor ons mense lag en gesels, sien hoe hulle plastiese tafels en stoele uit huise dra en in ʼn oop ruimtetjie tussen die kerkie en ʼn ander klipgeboutjie rangskik, waar ʼn elektriese kabel met gekleurde gloeilampies gespan is. Later is daar omtrent veertig of vyftig mense bymekaar – volwassenes, oumense, jongmense, oupas en oumas, pa’s en ma’s, kinders én kleinkinders. Dan sê John: “It’s time for us to go and stand in the queue.”
Ons hoor ʼn motorfiets uit die verte naderkom, hy jaag nie. Mense kyk in daardie rigting en ʼn opgewondenheid word merkbaar.
Iemand begin handeklap toe ʼn man en meisie van die fiets afklim, albei in tradisionele Griekse drag geklee en met tradisionele musiekinstrumente om die nek. Hulle word vriendelik ontvang en na ʼn klein platformpie begelei - ʼn paar palette wat ʼn paar meter bo seevlak teen ʼn lae klipmuurtjie neergelê is. Húlle is vanaand se kunstenaars!
Sy gaan sit op die muurtjie. Met een voet op die muurtjie, draai hy na haar. Teen die agtergrond van drywende weerkaatsende liggies op donker glansende water, begin hulle speel en sing. Na ʼn rukkie sing mense saam en klap hande op maat van ritmiese musiek. Kleintjies klap ook hande en sing saam asof hulle die liedjies goed ken - hulle kén die musiek!
Sy voer ʼn dans uit, toe hy, toe hy en sy. Later dans almal, oud en jonk, ook saam - In donkermaan dans gestaltes en figure saam, saam met die weerkaatsing van lig en skaduwee teen mure, saam op donker glimmende water.
*****
FRAGMENT Nr. 05
Suzette hoor my binnekom en roer luierig waar sy nog snoesig in die bed lê.
Ek wil die soutwater van my lyf afwas, maar ontdek dat daar nie water in die krane is nie. Dan hoor ek die vroutjie op die stoep met iets besig, gaan met die trap af, en kry haar waar sy die potplante op die voorstoep natgooi. Ek beduie dat ek haar aandag dringend nodig het. Sy sit die gieter neer, skuifel oor die stoep en sukkel met die trappies op. Ek volg haar.
Bo, stap ek voor haar die badkamer in, beduie dat ek wil stort, draai die krane oop en wys dat daar nie ʼn druppel water uit één van die krane kom nie. Sy glimlag en wink dat ek agter haar aan die trap moet af. Denkende dat onder ook ʼn stort is volg ek haar.
Sy lei my die tuin in, stop ʼn tuinslang in my hand en beduie dat ek my daarmee kan afspoel. Verdwaas staan ek nou hier soos doringboompie tussen die rose in haar tuin, met ʼn tuinslang in die hand. Sy glimlag ondeund, draai die kraan oop en stap weg. En, ja, hier staan ek nou in haar tuin en was met ʼn tuinslang seesout van my lyf af! Miskien sou ek dit ook op ʼn plekkie iewers aan die Kaapse Weskus óf by die Transkeise Wildekus gedoen het. Maar vanoggend voel ek soos ʼn klein seuntjie toe my ma my ʼn tuinslang in die hand gestop het om modder van my lyf af te was voordat ek die huis mog binnegaan.
*****
FRAGMENT Nr. 06
By Agios Nikolaos parkeer ons langs die hotel waar ek gistermiddag navraag gedoen het en stap na die kant van die gebou, waar ʼn paar tafeltjies en stoele staan. Op een van die tafels lê ʼn selfoon, ʼn beursie, ʼn horlosie en ʼn bos sleutels. “Kyk,” sê ek verbaas, “die eienaar daarvan is seker net gou die hotel in om iets te gaan doen of te gaan haal. Hy kom seker netnou terug.”
Ons kies die tafeltjie wat na ons mening die beste uitsig oor die see, die hawetjie en die dorpie bied. Suzette sit haar strandkeps op, skop haar sandale uit en skuif haar stoel reg terwyl ek gaan hoor of hulle vir ons ontbyt kan bedien. Ek sien niemand binne nie en roep, maar niemand antwoord nie. Toe besluit ek om liewer buite by Suzette te gaan sit en wag totdat iemand te voorskyn kom. Saam raak ons verdiep in die sinnespel voor ons - nóú hou ons vakansie! “Zalig," sou die Vlaminge sê.
Sowat vyftig meter ver die see in is iemand besig om te snorkelduik. Ons sien hoe hy bo die water uitkom, sy duikbril versit en water daaruit gooi. In een hand hou hy ʼn pylgeweer vas. Hy het nie ʼn duikpak aan nie, maar toe hy weer onder die water wegduik sien ek dat hy darem “flippers” gebruik. Ons sien die snorkel beweeg: ʼn entjie na links, ʼn entjie na regs, verder die see in, dan weer nader. Dan sien ons hom, met pylgeweer in een hand en pangrootte vis in die ander, tussen die rotse uitgestap kom. Ek herken hom as die man met wie ek gister hier by die hotel gepraat het.
Met pylgeweer en vis in die hand kom hy nader en vra: “Can I help you?”
“A nice catch!” Merk ek op en vra: “Do you serve breakfast?”
“Yes, one moment please,” sê hy en stap die hotel binne.
Hy kom dadelik weer uit, steeds kaalvoet en met sy swembroek aan, maar in plaas van die vis en pylgeweer, het hy ʼn plastiese kleedjie in die hand en spyskaart onder die arm. Water pêrel nog op sy lyf en drup van hom af toe hy die kleedjie oor die tafel sprei, dit gladstryk en met klampies aan die kante van die tafel vasknyp.
Ek wys na die selfoon, horlosie, beursie en sleutels, en sê: “It looks like someone has forgotten …”
Maar voordat ek die sin kon klaarmaak sê hy met ʼn breë glimlag: “It’s mine.”
Ek vra: “Aren’t you afraid that someone might take it?”
Hy lag en sê byna verontwaardig: “Here, nobody will take it.”
Hy haal die spyskaart onder sy arm uit, skud druppels daarvan af, maak dit oop en sit dit voor ons neer, staan terug, vou sy arms oor sy bors en vra: “Now, what you like?”
Wicus Botha (alias: Griekse Boerke)
DENDERMONDE
*****
Die eerste 3 dele van die reeks "Griekeland verrassend anders!" word gelyktydig gepubliseer en vrygestel:
Griekeland - Verrassend anders! DEEL 1
Griekeland - Verrassend anders! DEEL 2 - Trahila
Griekeland - Verrassend anders! DEEL 3 - Pélion
×